Speculaas (Outydse Spesery Koekies)

Speculaas (Outydse Spesery Koekies)

Hierdie koekies is nie presies soos Nederlandse speculaas nie, dit is nader aan ou Suid-Afrikaanse spesery koekies – die tipe wat my ouma gebak het.

Bestanddele
230 g (1 k) botter
10 ml (2 t) vanilla
200 g (1 k) wit suiker
250 g (1¼ k) bruin suiker
2 eiers
420 g (3½ k) meel
10 ml (2 t) koeksoda
37.5 ml (2½ E) gemengde speserye (Beskikbaar by Woolworths)
5 ml (1 t) sout

Metode
Verhit die oond tot 180 °C en spuit ‘n bakplaat (sien Nota 1) met kleefwerende sproei.

Room die botter, vanilla, wit suiker en bruin suiker saam tot lig en donsig.  Voeg die eiers by en meng goed.  Meng die droë bestanddele saam, en voeg stadig by die bottermengsel.  Die deeg is genoeg gemeng wanneer dit van die kante van die bak af kom en ‘n bol vorm.

Deel die bol deeg in twee en draai altwee stukke in kleefplastiek toe.  Plaas dit in die yskas vir ten minste 4 ure.

Haal die deeg uit die yskas en strooi ‘n skoon oppervlak met meel.  Rol die deeg sowat 0.5 cm dik uit.  Sny dan vorms uit met ‘n koekiedrukker (enige vorm).  Pak die koekies ten minste 2 cm uitmekaar (dit is geneig om bietjie uit te sit).  Bak vir 10 tot 12 minute, of tot die koekies net begin donkerder raak (sien Nota 2).  Laat die koekies afkoel op ‘n draadrak en stoor in ‘n lugdigte houer.

Die resep lewer ±120 koekies.

Resepnota’s
Nota 1:  ‘n Dubbellaag bakplaat werk die beste, dit verseker dat die koekies se onderkante nie te donker raak nie.
Nota 2:  Die koekies raak meer bros soos dit afkoel, so hul mag moontlik nog effens sag wees wanneer dit uit die oond kom.


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui