Krummelappeltert (Apple crumble)

Krummelappeltert (Apple crumble)

Amper enige vrugte kan vir hierdie tert gebruik word.  My gunsteling kombinasie is pere met gemengde bessies.  Hillcrest Berry Farm verkoop gevriesde pakkies gemengde bessies wat baie goed werk.

Bestanddele
Kors:

120 g (1 k) meel
115 g (½ k) botter
100 g (½ k) wit- of bruinsuiker (Nota 1)
5 ml (1 t) bakpoeier
1 ml (¼ t) sout

Vulsel:
± 400 g tertvrugte (Nota 2)
50 – 100 g (¼ – ½ k) suiker (Nota 3)
2 ml (½ t) kaneel (net as appels gebruik word)
knippie sout

Metode
Verhit oond tot 180 °C en spuit ‘n oondvaste tertbord (Sien Nota 4) met kleefwerende sproei.

Sif die meel, suiker, bakpoeier en sout saam. Vryf die botter by die meelmengsel in om ‘n deeg te vorm. Bedek die deeg en plaas in yskas tot nodig.

As vars vrugte gebruik word, skil en sny in skyfies. Kook dit vir ±2 minute in ‘n medium stroop (1:2 ratio van suiker en water), tot net gaar maar nog nie pap nie. Haal van hitte af. Haal ook die deeg uit die yskas.

Meng die suiker, kaneel (as appels gebruik word) en knippie sout saam. Skep ‘n laag van die vrugte in die gesmeerde tertbord, strooi die helfte van die suikermengsel bo-oor die vrugte laag, en volg dit weer met ‘n laag van die vrugte en die suikermengsel tot beide op is. Rasper (met die growwe kant, medium by party raspers) nou die deeg bo-oor.

Bak die tert 20 minute lank of tot die deeg begin verbruin. Sit dit warm of koud voor saam met vla en/of roomys.

Resepnota’s
Nota 1: Bruinsuiker maak die kors meer ‘crunchy’.
Nota 2: Kan gaar appels, gaar pere, of kombinasie van gaar pere en gemengde bessies gebruik.
Nota 3: Gebruik minder suiker as vrugte baie soet is.
Nota 4: Kan 6-8 kleiner bakkies ook gebruik om individuele tertjies te maak.


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui