Dombolo

Dombolo is ‘n gestoomde brood. Die deeg kan ook gebruik word om kluitjies (dumplings) te maak saam met ‘n potjie of bredie.
Bestanddele
500 g meel
6.25 ml (1¼ t) sout
5 ml (1 t) suiker
375 ml (1½ k) lou warm water
½ pakkie (1½ t) kitsgis
Metode
Meng die meel, sout, suiker, een koppie water en gis in ‘n bak tot dit van die kante los kom. Voeg dan die res van die water by, en vorm ‘n ferm bol deeg. Gooi nog meel by as dit nodig is. Plaas die deeg in ‘n metaalbak wat goed gespuit is met kleefwerende sproei (Die metaalbak moet kan pas binne in ‘n pot om te kan stoom). Maak die bak toe met waspapier (sien Nota 2) wat ook met kleefwerende sproei gespuit is, en laat rys vir 30 minute in ‘n warm plek.
Vul die pot (waarin die metaalbak pas) ‘n kwart vol met water, en laat kook. Draai hitte af tot water prut, en sit die bak met deeg in die pot. Sit die pot se deksel op en stoom vir ± 50 minute.
Vir kluitjies (dumplings):
Volg die stappe tot waar die deeg moet rys. Na dit vir 30 minute gerys het, rol dit in bolletjies (golfbal grootte). Plaas die deeg bolletjies bo-op die potjie of bredie 20-30 minute voor opdiening, maak seker om deksel op potjie te hou. Die kluitjies trek die sous in van onder, en stoom van bo af gaar.
Resepnota’s
Nota 1: Dit help om die waspapier met ‘n toutjie of rekkie vas te maak om die bak. Die deeg is geneig om baie te rys.
